Die Onderhoud

Die Onderhoud picture

Jou onderhoud by 'n potensiële werkgewer is die laaste kans wat jy het om 'n indruk op die persoon te maak en is dit belangrik om deeglik vir die onderhoud voor te berei. Om onvoorbereid na 'n onderhoud te gaan op grond van 'n goeie persoonlikheid en/of dat jy 'n goeie werker is, is nooit ‘n goeie idee nie, selfs al is jy die beste persoon vir die posisie, en sal iemand wat dalk minder ervare is, die posisie moontlik kry bloot omdat hy/sy beter voorbereid was en regtig daardie ekstra “effort” in gesit het. Onthou, "Failing to prepare, is preparing to fail”?

Mededinging by werksonderhoude is ‘n realiteit, ongeag die vlak van die werksposisie, en neem werwing nie net tyd nie, maar dit kos ook geld en daarom gee Boerderye nie net werk weg nie! ‘n Boerdery sal altyd die persoon wat die meeste beïndruk het gedurende die onderhoud, die werk aanbied. 

Wanneer 'n kandidaat uiters indrukwekkend is by die aanvanklike onderhoud, sal dit waarskynlik nie nodig wees vir verdere onderhoude nie, en kan mense wat regtig die ekstra moeite doen, net een onderhoud nodig hê om 'n werksaanbod te kry, en plaas dit die persoon ook in ‘n goeie posisie om ‘n beter salaris te onderhandel.

Navorsing, Navorsing, Navorsing

Onderhoudvoerders wil weet dat jy regtig die werk wil hê en die moeite ingesit het om dit te kry. Neem tyd om die werkspesifikasie regtig te verstaan, doen navorsing oor die Boerdery, die mededingers en die mark waarin hulle is en kyk ook na die onderhoudvoerder se agtergrond.

Bewys dit

Onderhoudvoerders hou altyd daarvan om bewese suksesse en prestasies in vorige rolle te sien. Het jy bewyse van enige toekennings, skriftelike aanbevelings, prestasies? Neem dit saam na jou onderhoud, onthou, jy moet jouself verkoop.

Wees betyds

Maak seker om 10 - 15 minute voor die geskeduleerde tyd by die kantoor- of ontvangsarea van die Plaas aan te meld. Beplan jou roete en laat altyd ekstra tyd toe. Deur laat op te daag, gaan jou nie net sleg laat lyk in die oë van jou potensiële werkgewer nie, maar gaan jou gespanne maak en kan jy jou fokus wat jy nodig het vir die onderhoud verloor, so laat ekstra tyd toe sodat jy 'n paar minute het om jouself te kalmeer en hernude fokus te kry voordat jy ingaan vir  die onderhoud.

Eerste indrukke

Daardie eerste aanvanklike kontak tydens die onderhoud is van kardinale belang en is waar eerste indrukke ontwikkel word, en is dit belangrik dat die eerste indrukke so positief as moontlik moet wees. Wees vriendelik en glimlag want werkgewers wil gelukkige, entoesiastiese en positiewe mense in diens neem.

Trek gepas aan

Dit klink voor die hand liggend, maar baie kandidate laat hulself in die steek met hul voorkoms. Dit is baie belangrik dat jou voorkoms geskik is vir die werksrol. Die oomblik wat jy in die onderhoud instap, gaan jou onderhoudvoerder sy/haar eie visuele indrukke oor jou begin maak, en is die beste manier om ‘n goeie indruk te maak om aandag aan jou voorkoms te gee deur toepaslik aan te trek, goed versorg te wees en seker te maak dat jy die rol wat die posisie vereis lyk.

‘n Sterk handdruk met ‘n glimlag

'n Ferm handdruk, sonder om die ander persoon se hand te probeer papdruk, skep ‘n goeie eerste indruk. Maak seker jou hande is droog voordat jy ‘n persoon se hand druk en is dit dalk ‘n goeie idee om jou hande met ‘n sakdoek droog te vee voor die onderhoud se handdrukke, en weer vir na die onderhoud se handdrukke. Onthou ook om te glimlag!

Onthou jou maniere

Soos wat jy in die onderhoudvoerder se kantoor in genooi word - wag totdat hy/sy jou vra om 'n sitplek in te neem voordat jy jouself gemaklik maak, dit is die beleefde ding om te doen.

Oogkontak 

Oogkontak is fundamenteel belangrik en is ‘n paar oë wat oral anders kyk as na die persoon met wie hulle praat ongemaklik vir die onderhoudvoerder en skep dit wantroue. Die regte hoeveelheid oogkontak is nie net 'n teken van respek nie, maar wys dit ook dat die persoon aandag gee en belangstel in die gesprek. As ‘n onderhoud bestaan uit ‘n paneel onderhoudvoerders, maak seker dat jy almal met jou oë aanspreek. As een individu ‘n vraag vra, gaan almal op die paneel jou fyn dophou en evalueer, so maak seker dat jou hele gehoor die gevoel het dat hulle deel is van die onderhoudproses.

Wees positief

Moenie jou huidige of vorige werkgewers in 'n negatiewe lig stel nie., selfs al werk jy vir die wêreld se ergste werkgewer. Maak seker dat jou rede vir ‘n verandering van werk altyd positief is soos bv. 

"Ek het ‘n baie suksesvolle tydperk by my vorige werkgewer gehad, ek het baie geleer en vaardighede verbeter, maar ek voel nou, dat as ek wil groei en meer leer,  is dit tyd vir my om aan te beweeg en 'n nuwe uitdaging te soek."

Baie potensiële werkaanbiedinge gaan verlore omdat kandidate negatiewe opmerkings of aanmerkings teenoor huidige en/of voormalige werkgewers gehad het gedurende ‘n onderhoud. Onthou, "Hoekom is jy op soek na ‘n ander werk?" is altyd ‘n vraag in ‘n onderhoud.

Hoofredes waarom mense nie 'n werksaanbod na 'n onderhoud kry nie

  • Kandidate daag op vir ‘n onderhoud maar het geen voorbereiding, navorsing of begrip van die Boerdery en werk wat aangebied word nie.
  • Kandidate is oor aggressief, het ‘n meerderwaardigheidskompleks, swak taalgebruik
  • Onvermoë om gedagtes duidelik te verbaliseer
  • Gebrek aan beplanning vir 'n loopbaan - geen doel of doelwitte nie.
  • Gebrek aan belangstelling en entoesiasme
  • Gebrek aan vertroue - senuweeagtigheid
  • Gebrek aan takt, volwassenheid, hoflikheid
  • Versuim om intelligente vrae oor die werk te vra
  • Die houding van "Wat kan jy vir my doen?"

Algemene vrae wat jy in ‘n onderhoud kan verwag

Vertel my meer van jouself?

Beskryf jouself in 'n werksituasie, jou opleiding, vermoëns, ondervinding en prestasies en hoe dit jou in die nuwe werksgeleentheid kan help. Hou dit kort en kragtig.

Wat is jou swakste eienskappe?

Fokus hier op jou werk en nie jou karakter nie. Probeer die negatiewe omswaai in 'n positiewe, bv. "Ek is 'n perfeksionis en kan hard op myself wees" of "Ek is altyd betyds en het met tyd geleer dat nie almal altyd betyds is nie, daar is ook redes hoekom mense laat is".

Wat Is jou sterkpunte?

Wanneer hierdie vraag gevra word, is dit tyd om jouself te bemark. Jy het dalk goeie menseverhoudinge, kan tyd goed bestuur, kan konflik goed hanteer, kan goed onder druk werk. Wees voorbereid om voorbeelde te gee sou jy gevra word.

Hoe hanteer jy konflik?

Deur bv. na die ander party te luister, nie wrok te koester nie, so gou as moontlik oplos, middeweg te vind is voorbeelde wat jy kan noem.

Hoe hanteer jy twee situasies of take wat dadelik jou aandag nodig het?

Hierdie vraag toets hoe jy druk hanteer, hoe jy 'n situasie opsom en of jy op jou voete kan dink. Evalueer eers die vraag as 'n voorbeeld genoem sou word, en antwoord kort en tot die punt. Jy kan dink aan goed soos delegeer, bepaal watter een is meer prioriteit ens. Wat belangrik is, is dat albei dadelik jou onverdeelde aandag moet kry en jou aandag sal behou totdat die taak/situasie uitgesorteer is.

Vertel my van jou huidige/vorige werk?

Soos reeds hierbo genoem, moet NOOIT iets negatief van jou vorige werk of werkgewer sê nie. Brei liewers uit oor wat jy alles geleer het, en dat jy nou opsoek is na ‘n nuwe uitdaging en/of om nuwe kennis, jou vaardighede te verbeter en ondervinding te kry.

Jou lang- en korttermyndoelwitte?

Werknemers gebruik hierdie vraag om jou lojaliteit te toets, hulle probeer agterkom of jy opsoek is na 'n langtermyn beroep. Jou antwoord kan iets wees soos: korttermyndoelwitte is om in die nuwe betrekking soveel kennis, kundigheid en ervaring op te bou om sodoende dan by jou langtermyndoelwit uit te kom, wat dalk ‘n meer senior posisie in die Boerdery/Maatskappy kan wees.

Werk jy beter in 'n span of alleen?

Meeste werkgewers soek beide

Wat motiveer jou?

Dink mooi na oor jou motivering, en onthou dit is NOOIT geld nie.

Wat is jou salarisverwagting?

As jy weet wat die salaris is wat aangebied word, hou daarby. As nie, onderhandel rondom 'n markverwante salaris.

As die werkgewer vra of jy vrae het wil hulle sien of jy regtig ernstig oor die werk gedink het en sal 'n paar intelligente vrae oor die posisie en Boerdery jou onderhoud versterk. Skryf vrae voor die tyd neer en wys belangstelling met jou vrae. Probeer nie meer as twee te vra nie, vrae kan gaan oor die Boerdery/Maatskappy, geleenthede vir groei ens. Gebruik ook die geleentheid om seker te maak dat jy hulle vra oor enige besprekings wat hulle oor jou en jou geskiktheid het vir die werksrol en weg so enige onsekerhede uit die weg, en op hierdie manier, sal jy geen twyfel in hul gedagtes laat dat jy die werk kan doen nie.

Onthou om na die onderhoud jou bedanking vir die geleentheid uit te spreek en al die partye met ‘n ferm handdruk te groet.

Hoop dit gaan help, en onthou, wees eerlik ten alle tye, bly kalm, toon goeie insig in jou eie vermoëns, loopbaanverwagtinge en planne vir die toekoms.

Sterkte!!!

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp