Leerling Melkerybestuurder Middelburg-distrik

Leerling Melkerybestuurder  Middelburg-distrik picture

Kom jy uit ’n boerdery-agtergrond, of het jy ’n opregte begeerte om jou loopbaan in Landbou te bou en moontlik eendag self te boer?

’n Gevestigde Melkboerdery in die Middelburg-distrik bied ’n waardevolle ontwikkelingsgeleentheid vir ’n jong, verantwoordelike en leergierige kandidaat wat praktiese ondervinding in die bestuur van ’n melkery wil opbou.

Hierdie is nie bloot ’n melkstalpos nie. Die suksesvolle kandidaat sal geleidelik blootstelling ontvang aan die volle melkproduksieproses, insluitend kuddegesondheid, kalfversorging, voeding, voerrantsoene, produksiedata, personeel en die daaglikse operasionele bestuur van die melkery.

Die geleentheid is besonder geskik vir iemand wat graag prakties leer, verantwoordelikheid wil aanvaar en hom- of haarself oor tyd as ’n bekwame melkery- en boerderybestuurder wil vestig. Vroulike kandidate word sterk aangemoedig om aansoek te doen.

Die Boerdery-omgewing

Die pos is geleë binne ’n praktiese en produksiegedrewe melkboerdery in die Middelburg-distrik.

Melkproduksie vereis vaste roetines, goeie waarneming en konsekwente standaarde. Melktye, dieregesondheid, kalfversorging, voere, higiëne en personeel moet daagliks aandag ontvang, ongeag naweke of openbare vakansiedae.

Die kandidaat sal nie net leer hoe om take uit te voer nie, maar ook hoe die verskillende dele van ’n melkboerdery saamwerk om dieregesondheid, melkproduksie en winsgewendheid te ondersteun.

Wie Sal Goed In Hierdie Rol Pas?

Die ideale kandidaat is iemand wat:

  • Op ’n plaas grootgeword het of reeds betekenisvolle blootstelling aan boerdery gehad het.
  • Alternatiewelik ’n duidelike en opregte begeerte het om ’n loopbaan in boerdery te bou.
  • Moontlik die langtermynambisie het om self te boer of ’n melkery te bestuur.
  • Rustig, geduldig en oplettend met diere werk.
  • Bereid is om vroeg op te staan en volgens die praktiese vereistes van ’n melkery te werk.
  • Nie bang is om fisies en prakties by die daaglikse werk betrokke te wees nie.
  • Tegnologie, produksiedata en rekordhouding as belangrike bestuursinstrumente sien.
  • Leiding en regstelling positief kan ontvang.
  • Mettertyd verantwoordelikheid vir mense, diere en produksieresultate wil aanvaar.

Doel van die Rol

Die doel van die pos is om die kandidaat onder praktiese leiding in die verskillende fasette van melkerybestuur te ontwikkel.

Die suksesvolle kandidaat sal aanvanklik leer en ondersteun, maar sal na gelang van ontwikkeling en bewese vermoë geleidelik meer verantwoordelikheid ontvang vir melkstalbedrywighede, kuddegesondheid, kalwers, voeding, rekordhouding, personeel en produksiebeheer.

Sleutelverantwoordelikhede

  • Leer en ondersteun die daaglikse melkroetines en werkvloei in die melkstal.
  • Help verseker dat melktye betyds en volgens die vereiste prosedures afgehandel word.
  • Handhaaf hoë standaarde van melkstalhigiëne, biosekuriteit en toerustingnetheid.
  • Monitor koeie vir tekens van mastitis, mankheid, siekte, beserings of abnormale gedrag.
  • Help met kalfversorging, biesmelkbestuur, voeding, speenprogramme en algemene kalfgesondheid.
  • Ondersteun die groepering, verskuiwing en korrekte hantering van melkbeeste.
  • Leer om melkproduksie, reproduksie, behandelings en ander kuddedata akkuraat te interpreteer en aan te teken.
  • Ontwikkel praktiese vaardigheid in die gebruik van DelPro en CowManager-sagteware.
  • Help met die voorbereiding, vermenging en uitplasing van voerrantsoene.
  • Leer hoe rantsoene, droëmateriaal, voerinnames en mengakkuraatheid melkproduksie en kuddegesondheid beïnvloed.
  • Monitor voer- en waterbeskikbaarheid en rapporteer afwykings betyds.
  • Ondersteun algemene kuddegesondheids- en reproduksieprogramme.
  • Help met personeeltoesig, werkstoedeling en die handhawing van daaglikse standaarde.
  • Rapporteer foutiewe melkstal-, voer-, pomp-, water- of ander toerusting voordat dit produksie beïnvloed.
  • Ontwikkel die vermoë om mettertyd verantwoordelikheid vir ’n melkeryskof of produksie-eenheid te aanvaar.

Minimum Vereistes

  • Matriek is ’n minimum vereiste.
  • ’n Toepaslike tersiêre kwalifikasie in Landbou, Diereproduksie, Veekunde, Melkproduksie of Boerderybestuur sal ’n sterk voordeel wees.
  • Relevante kortkursusse in melkproduksie, dieregesondheid, voeding, reproduksie of kuddebestuur sal voordelig wees.
  • ’n Plaasagtergrond of vorige praktiese blootstelling aan boerdery word verkies.
  • Praktiese blootstelling aan melkbeeste, kalfversorging, beesvoeding of melkstalbedrywighede sal ’n voordeel wees.
  • Ervaring met DelPro en/of CowManager sal voordelig wees.
  • Kennis van voerrantsoene, voerkomponente en die praktiese meng van rantsoene sal ’n sterk voordeel wees.
  • Bereidheid om volgens melkery-ure, diensroosters, naweke en openbare vakansiedae te werk.
  • Bereidheid om in die Middelburg-distrik te woon en by ’n praktiese plaasleefstyl aan te pas.
  • Basiese rekenaarvaardigheid en die vermoë om rekords akkuraat by te hou.
  • Goeie kommunikasievermoë in Afrikaans en Engels.
  • ’n Geldige bestuurderslisensie sal voordelig wees.

Persoonlike Eienskappe

  • Opreg lief vir Landbou en diere.
  • Betroubaar en gedissiplineerd.
  • Prakties, nuuskierig en leergierig.
  • Oplettend vir klein veranderinge in dieregedrag en produksie.
  • Nederig genoeg om te leer, maar gemotiveerd om te groei.
  • Bereid om eienaarskap van take en resultate te aanvaar.
  • Langtermyn- en loopbaangerig.

’n Markverwante salaris eie aan die bedryf met voordele word aangebied

Diensaanvaarding: So gou as moontlik
Aansoeke sluit: 30 Julie 2026

Kandidate wat ernstig is oor ’n langtermynloopbaan in melkproduksie en praktiese boerderybestuur, word uitgenooi om aansoek te doen deur diè skakel👉 [aansoek]

Share on
Click here to contact us on WhatsApp