Plaasbestuurder: Beeste en Skape (Klerksdorp–Ventersdorp-omgewing)
Is jy ’n praktiese veemens wat ’n trop kan lees, probleme vroeg raaksien en verstaan dat goeie veebestuur uit konsekwente daaglikse aandag bestaan?
Hierdie geleentheid is vir ’n verantwoordelike kandidaat met toepaslike ondervinding in bees- en skaapboerdery wat gereed is om groter verantwoordelikheid te aanvaar. Jy moet gemaklik wees om opdragte noukeurig uit te voer, selfstandig met jou dagtake voort te gaan en onder druk steeds goeie oordeel te gebruik.
Die regte persoon sal nie net take afhandel nie. Jy sal verantwoordelikheid neem vir die standaard waarteen die vee, fasiliteite en daaglikse plaasbedrywighede bestuur word.
Die Boerdery-omgewing
Die pos is geleë by ’n gevestigde gemengde boerdery tussen Klerksdorp en Ventersdorp. Die boerdery se bees en skaap afdeling is opsoek na ’n bestuurder wat daagliks prakties betrokke sal wees by die vee, kampe, hanteringsfasiliteite, personeel en algemene plaaswerk.
Dit is ’n hande-vat-omgewing waar werk nie altyd volgens kantoorure verloop nie. Siek diere, kalf- en lamtyd, behandelings, bewegings en veranderende weersomstandighede vereis oplettendheid, beskikbaarheid en goeie prioritisering.
Wie Sal In Hierdie Rol Pas?
Die ideale kandidaat:
- Geniet dit om daagliks prakties met beeste en skape te werk.
- Kan instruksies verstaan, korrek uitvoer en terugvoer gee.
- Raak nie maklik oorweldig wanneer verskeie take gelyk aandag vereis nie.
- Is oplettend genoeg om veranderinge in dieregedrag, kondisie of gesondheid vroeg raak te sien.
- Werk verantwoordelik met vee, voertuie, toerusting en infrastruktuur.
- Wil mettertyd verder ontwikkel as veeboerderybestuurder.
Doel van die Rol
Die Plaasbestuurder sal verantwoordelik wees vir die praktiese uitvoering en daaglikse koördinering van die bees- en skaapbedrywighede.
Die kern van die rol is om te verseker dat veeversorging, gesondheidsprogramme, bewegings, voedingsroetines, personeelwerk en algemene plaasbedrywighede betyds, ordelik en volgens die boerdery se standaarde uitgevoer word.
Kernverantwoordelikhede
- Daaglikse toesig oor die versorging en algemene welstand van beeste en skape.
- Monitering van dieregesondheid, kondisie en gedrag.
- Identifisering en rapportering van siek, beseerde of probleemdiere.
- Uitvoering en opvolg van doserings-, inentings- en behandelingsprogramme.
- Praktiese betrokkenheid by kalf-, lam-, speen- en seleksieprosesse.
- Beplanning en uitvoering van veebewegings tussen kampe en hanteringsfasiliteite.
- Monitering van waterpunte, heinings, krale en ander veeinfrastruktuur.
- Toesig oor plaaswerkers en die korrekte uitvoering van daaglikse take.
- Basiese rekordhouding rakende veegetalle, behandelings, verliese en bewegings.
- Verantwoordelike gebruik van die werksvoertuig, toerusting en plaasbates.
- Ondersteuning met algemene plaaswerk en instandhouding waar nodig.
- Gereelde terugvoer aan senior bestuur of die eienaar oor vordering, probleme en prioriteite.
Minimum Vereistes
- Drie tot vyf jaar toepaslike praktiese ondervinding in bees- en/of skaapboerdery.
- Bewese begrip van algemene veeversorging, dieregesondheid en veehantering.
- Vermoë om opdragte akkuraat en binne die vereiste tyd uit te voer.
- Vermoë om onder druk kalm, verantwoordelik en taakgerig te werk.
- Goeie Afrikaanse kommunikasievaardighede.
- Geldige bestuurslisensie.
- ’n Toepaslike landboukwalifikasie word aanbeveel en sal in die kandidaat se guns tel.
- ’n Verantwoordelike en nugtere leefstyl is noodsaaklik.
Persoonlike Eienskappe
Ons soek iemand wat:
- Betroubaar en verantwoordelik is.
- Prakties en oplettend werk.
- Respekvol met mense en diere omgaan.
- Terugvoer gee voordat klein probleme groot probleme word.
- Trots is op netjiese werk en goeie veestandaarde.
- Bereid is om te leer en verdere verantwoordelikheid te aanvaar.
’n Markverwante salaris eie aan die bedryf, gratis behuising (drieslaapkamerhuis) ’n Huis- en Tuinwerker word met ’n ander plaasbestuurder gedeel, en 'n voertuig vir werkdoeleindes word aangebied.
Diensaanvaarding: So gou as moontlik
Aansoeke sluit: 27 Julie 2026
Kandidate wat oor die nodige praktiese veeondervinding beskik en gereed is om verantwoordelikheid binne ’n bees- en skaapboerdery te aanvaar, word uitgenooi om aansoek te doen deur die skakel 👉 [Aansoekskakel]